1 Samuel 8
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur dat toe Sh’mu’el oud was, hy sy seuns as rigters oor Yisra’el aangestel het. 2Die naam van sy eersgeborene was Yo’el en die naam van sy tweede Aviyah; hulle het in Be’er-Sh’va gerig. 3Sy seuns het egter nie in sy weë geloop nie, maar het na oneerlike wins afgedraai en omkoopgeskenke ontvang en die reg verdraai.

4Toe het al die oudstes van Yisra’el saam vergader en by Sh’mu’el gekom in Ramah 5en vir hom gesê: “Let op, u het oud geword en u seuns loop nie in u weë nie. Stel nou soos al die nasies ’n koning oor ons aan om ons te rig.” 6Dié ding was egter verkeerd in die oë van Sh’mu’el toe hulle gesê het: “Gee vir ons ’n koning om ons te rig,” en Sh’mu’el het tot יהוה gebid. 7יהוה sê vir Sh’mu’el: “Luister na die stem van die volk in alles wat hulle vir jou sê, want hulle het jóu nie verwerp nie, maar hulle het Mý verwerp as Koning oor hulle. 8Soos al die dade wat hulle gedoen het, van dié dag af dat Ek hulle uit Mitzrayim laat optrek het tot vandag toe deurdat hulle My verlaat en ander gode gedien het; so doen hulle ook aan jou. 9Luister dan nou na hulle stem: jy moet hulle egter ernstig waarsku en hulle vertel van die werkswyse van die koning wat oor hulle sal regeer.”

10Sh’mu’el het al die woorde van יהוה aan die mense, wat ’n koning van hom gevra het, oorgedra. 11Hy het gesê: “Dit sal die werkswyse wees van die koning wat oor julle sal regeer: hy sal julle seuns vat en hulle vir homself in sy strydwaens sit en by sy perderuiters en hulle sal voor sy wa hardloop. 12Hy sal vir homself bevelvoerders oor duisend en bevelvoerders oor vyftig aanstel en sommige om sy land te ploeg en om sy oes in te samel en om sy oorlogswapens en gereedskap vir sy strydwaens te maak. 13Hy sal ook julle dogters as salfmengsters, kooksters en baksters vat. 14Hy sal die beste van julle lande, julle wingerde en julle olyfboorde vat en aan sy diensknegte gee. 15Hy sal ’n tiende van julle saailande en julle wingerde vat en dit vir sy offisiere en sy diensknegte gee. 16Hy sal julle slawe en slavinne, julle beste jongmanne en julle donkies vat en vir sy werk gebruik. 17Hy sal ’n tiende van julle kleinvee vat en julleself sal sy slawe wees. 18Dan sal julle in dié dag uitroep as gevolg van jul koning wat julle vir julleself gekies het, maar יהוה sal julle nie in dié dag verhoor nie.”

19Nogtans het die volk geweier om na die stem van Sh’mu’el te luister en hulle het gesê: “Nee, maar daar moet ’n koning oor ons wees 20dat ons ook kan wees soos al die nasies; dat ons koning ons kan rig en voor ons uittrek en ons gevegte veg.” 21Nadat Sh’mu’el al die woorde van die mense aangehoor het, het hy hulle herhaal ten aanhore van יהוה. 22יהוה het vir Sh’mu’el gesê: “Luister na hulle stem en stel ’n koning oor hulle aan.” Sh’mu’el het vir die manne van Yisra’el gesê: ‘Gaan, elkeen na sy stad.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 7
Top of Page
Top of Page