1 Samuel 5
Afrikaans PWL
1Die F’lishtyne het die ark van God gevat en dit van Even-ha`Ezer af na Ashdod gebring. 2Toe het die F’lishtyne die ark van God gevat en dit na die huis van Dagon gebring en dit langs Dagon neergesit. 3Toe die Ashdodiete vroeg die volgende oggend opstaan, let op, het Dagon op sy gesig op die grond voor die ark van יהוה geval. Hulle vat vir Dagon en sit hom weer op sy plek, 4maar toe hulle die volgende oggend vroeg opstaan, let op, het Dagon op sy gesig op die grond voor die ark van יהוה geval en Dagon se kop en sy twee handpalms lê afgekap op die drumpel; net Dagon se lyf het vir hom oorgebly; 5daarom trap die priesters van Dagon en almal wat in die huis van Dagon ingaan, tot vandag toe nie op die drumpel van Dagon se huis in Ashdod nie.

6Die hand van יהוה was swaar op die Ashdodiete en Hy het hulle geteister en hulle getref met gewasse, beide Ashdod en sy grondgebiede. 7Toe die manne van Ashdod sien dat dit so is, sê hulle: “Die ark van die God van Yisra’el mag nie by ons bly nie, want Sy hand is swaar op ons en op Dagon, ons god. 8Hulle het gegaan en al die meesters van die F’lishtyne by hulle bymekaar laat kom en gesê: “Wat moet ons met die ark van die God van Yisra’el doen?” Hulle het gesê: “Laat die ark van die God van Yisra’el gebring word na Gat.” Hulle het die ark van die God van Yisra’el gebring. 9Nadat hulle dit oorgebring het, was die hand van יהוה teen die stad met ’n baie groot verwarring en Hy het die mense van die stad getref, beide jonk en oud sodat gewasse op hulle uitgebreek het. 10Hulle stuur toe die ark van God na `Ekron en toe die ark van God in `Ekron aankom, het die `Ekroniete uitgeroep en gesê: “Hulle het die ark van die God van Yisra’el na ons toe oorgebring om ons en ons mense dood te maak.” 11Hulle het daarom gestuur en al die meesters van die F’lishtyne het vergader en gesê: “Stuur die ark van die God van Yisra’el weg en laat dit na sy eie plek toe teruggaan sodat dit nie ons en ons mense sal doodmaak nie,” want daar was ’n dodelike verwarring regdeur die hele stad; die hand van God was baie swaar daar 12en die mense wat nie gesterf het nie, is met gewasse getref en die geskreeu van die stad het na die hemel opgegaan.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 4
Top of Page
Top of Page