1 Samuel 28
Afrikaans PWL
1Nou, dit het gebeur in daardie dae dat die F’lishtyne hulle gewapende leërs bymekaargemaak het vir oorlog, om teen Yisra’el te veg en Akhish het vir Dawid gesê: “Weet verseker dat jy saam met my sal uitgaan in die kamp, jy en jou manne.” 2Dawid sê vir Akhish: “Goed, u sal weet wat u dienskneg kan doen.” Akhish sê vir Dawid: “Goed, ek sal jou lewenslank my lyfwag maak.”

3Sh’mu’el was dood en die hele Yisra’el het oor hom gerou en hom begrawe in Ramah, sy eie stad. Sha’ul het die mediums en die waarsêers uit die land verwyder. 4Die F’lishtyne het bymekaargekom en gekom en gekamp in Shunem. Sha’ul het die hele Yisra’el bymekaargemaak en hulle het in Gilboa gekamp. 5Toe Sha’ul die kamp van die F’lishtyne sien, het hy bang geword en sy binneste het baie gebewe. 6Toe Sha’ul יהוה geraadpleeg het, het יהוה hom nie geantwoord nie, nie deur drome nie, ook nie deur die Urim nie en ook nie deur die profete nie.

7Toe sê Sha’ul vir sy diensknegte: “Soek vir my ’n vrou wat ’n medium is dat ek na haar toe kan gaan en haar raadpleeg.” Sy dienaars sê vir hom: “Let op, daar is ’n vrou wat ’n medium is in `Ein-Dor.”

8Toe het Sha’ul hom vermom deur ander klere aan te trek en gegaan, hy en twee manne saam met hom en in die nag by die vrou aangekom en hy het gesê: “Roep asseblief vir my op en laat vir my opkom die een wat ek vir jou sal noem.” 9Die vrou sê egter vir hom: “Let op, jy weet wat Sha’ul gedoen het; hoe hy die mediums en waarsêers uitgesny het uit die land uit. Waarom stel jy dan ’n val vir my lewe om my dood te maak?” 10Sha’ul het vir haar by יהוה gesweer en gesê: “So waar as יהוה leef, geen straf sal oor jou kom hiervoor nie!” 11Toe vra die vrou: “Wie moet ek vir jou laat opkom?” Hy het gesê: “Laat Sh’mu’el vir my opkom.” 12Toe die vrou Sh’mu’el sien, skreeu sy hardop en die vrou het met Sha’ul gepraat en gesê: “Waarom het u my bedrieg? Want u is Sha’ul.” 13Die koning antwoord haar: “Moenie bang wees nie, maar wat sien jy?” Die vrou sê vir Sha’ul: “Ek sien ’n goddelike wese uit die aarde opkom.” 14Hy vra haar toe: “Hoe is sy voorkoms?” Sy antwoord: “’n Ou man kom op met ’n mantel om.” Sha’ul het geweet dat dit Sh’mu’el was en hy buig met sy gesig na die grond toe en betoon respek.

15Toe sê Sh’mu’el vir Sha’ul: “Waarom steur jy my deur my te laat opkom?” Sha’ul antwoord: “Ek is baie benoud, want die F’lishtyne voer oorlog teen my en God het van my af weggegaan en antwoord my nie meer nie, nie deur profete nie en ook nie deur drome nie; daarom het ek u geroep om aan my bekend te maak wat ek moet doen.” 16Sh’mu’el het gesê: “Waarom vra jy my dan, aangesien יהוה van jou af weggegaan het en jou Teëstander geword het? 17יהוה het gedoen soos wat Hy deur my gepraat het, want יהוה het die koningskap uit jou hand geskeur en dit vir jou naaste, vir Dawid, gegee. 18Omdat jy nie na die stem van יהוה geluister en Sy intense wraak teen `Amalek uitgevoer het nie; daarom het יהוה vandag hierdie ding aan jou gedoen. 19Meer nog sal יהוה Yisra’el ook saam met jou in die hand van die F’lishtyne gee; daarom sal jy en jou seuns môre by my wees. Inderdaad sal יהוה die leër van Yisra’el in die hand van die F’lishtyne gee.”

20Sha’ul het dadelik in sy volle lengte op die grond geval en was baie bang as gevolg van die woorde van Sh’mu’el; daar was ook geen krag in hom nie, want hy het die hele dag en die hele nag geen kos geëet nie. 21Die vrou het na Sha’ul toe gekom en gesien dat hy baie beangs was en sy sê vir hom: “Let op, u dienares het u gehoorsaam en my lewe gewaag en na u woorde geluister wat u met my gepraat het. 22Luister nou ook na die stem van u dienares en laat ek vir u ’n stukkie brood voorsit dat u kan eet en krag hê wanneer u gaan.” 23Hy het egter geweier en gesê: “Ek sal nie eet nie.” Sy diensknegte en die vrou het egter by hom aangedring en hy het na hulle geluister, opgestaan van die grond af en op die bed gaan sit. 24Die vrou het ’n vetgemaakte kalf in die huis gehad en dit gou geslag en sy het meel gevat, dit geknie en ongesuurde brood daarvan gebak. 25Sy het dit voor Sha’ul en sy diensknegte gebring en hulle het geëet. Toe het hulle opgestaan en daardie nag weggegaan.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 27
Top of Page
Top of Page