1 Samuel 14
Afrikaans PWL
1Die dag het gekom dat Y’honatan, die seun van Sha’ul, vir die jongman wat sy wapens dra, gesê het: “Kom, ons gaan oor na die F’lishtyne se garnisoen wat aan die oorkant is,” maar hy het nie sy vader vertel nie. 2Sha’ul het in die buitewyke van Giv’ah gebly onder die granaatboom wat by Migron staan en die mense by hom was omtrent ses honderd man. 3Agiyah, die seun van Agituv, die broer van I-Khavod, die seun van Pingas, die seun van `Eli, die priester van יהוה in Shiloh, het ’n skouerkleed gedra en die manne het nie geweet dat Y’honatan gegaan het nie. 4Tussen die passe waardeur Y’honatan wou oorgaan na die garnisoen van die F’lishtyne, was daar ’n steil krans aan die een kant en ’n steil krans aan die ander kant en die naam van die een was Botzetz en die naam van die ander Seneh. 5Die een krans rys op aan die noordekant oorkant Mikhmas en die ander een aan die suide, oorkant Geva.

6Toe sê Y’honatan vir die jongman wat sy wapens dra: “Kom, laat ons oorgaan na die garnisoen van daardie onbesnedenes; miskien sal יהוה vir ons werk, want יהוה is nie beperk om deur baie of deur min te red nie.” 7Sy wapendraer sê vir hom: “Doen alles wat in u begeerte is, draai uself en hier is ek by u, volgens u begeerte.” 8Toe sê Y’honatan: “Let op, ons sal na die manne toe oorgaan en ons vir hulle wys. 9As hulle vir ons sê: ‘Wag totdat ons by julle kom,’ dan moet ons op ons plek bly staan en nie na hulle opklim nie, 10maar as hulle sê: ‘Kom op na ons toe,’ dan sal ons opklim, want יהוה het hulle in ons hand gegee en dit sal vir ons die teken wees.” 11Toe beide van hulle hulself wys vir die garnisoen van die F’lishtyne, sê die F’lishtyne: “Let op, Hebreërs kom uit die gate uit waar hulle hulself weggesteek het.” 12Die manne van die garnisoen het Y’honatan en sy wapendraer geroep en gesê: “Kom op na ons toe, dan sal ons julle iets vertel!” Y’honatan sê vir sy wapendraer: “Kom op agter my, want יהוה het hulle in die hand van Yisra’el gegee.” 13Toe klim Y’honatan boontoe op sy hande en voete en sy wapendraer agter hom en hulle het voor Y’honatan geval en sy wapendraer het sommige doodgemaak agter hom. 14Daardie eerste slagting deur Y’honatan en sy wapendraer, was ongeveer twintig man; hulle het hul opgesny soos klipsnyers en soos manne wat ’n land ploeg.

15Toe kom daar ’n bewing in die kamp, in die veld en onder al die manne. Selfs die garnisoen en die roofkommando het gebewe en die aarde het gebewe sodat dit ’n groot bewing geword het.

16Sha’ul se wagte in Giv’ah-Binyamin het gekyk en let op, die menigte smelt weg en hulle gaan heen en weer. 17Sha’ul sê vir die manne wat by hom was: “Tel nou en kyk wie van ons af weggegaan het.” Toe hulle getel het, let op, was Y’honatan en sy wapendraer nie daar nie. 18Toe sê Sha’ul vir Agiyah: “Bring die ark van God hier.” Die ark van God was in dié tyd by die seuns van Yisra’el. 19Terwyl Sha’ul met die priester gepraat het, het die verwarring in die kamp van die F’lishtyne aangehou en groter geword. Sha’ul sê vir die priester: “Trek jou hand terug!” 20Toe het Sha’ul en al die manne wat by hom was, bymekaargekom en hulle het by die geveg aangekom en let op, elkeen se swaard was teen die ander en daar was ’n baie groot verwarring. 21Die Hebreërs wat vroeër saam met die F’lishtyne was, wat oral saam met hulle in die kamp gegaan het, selfs hulle het ook omgedraai om saam met die Yisra’eliete wat saam met Sha’ul en Y’honatan was, te wees. 22Toe al die manne van Yisra’el, wat hulself in die bergland van Efrayim weggesteek het, hoor dat die F’lishtyne gevlug het, het selfs ook hulle hul in die geveg agternagesit. 23So het יהוה Yisra’el op dié dag bevry en die geveg het verby Beit-Aven versprei.

24Die manne van Yisra’el is hard gedryf op daardie dag, want Sha’ul het die manne onder eed geplaas en gesê: “Vervloek is die man wat iets eet voor die aand en totdat ek myself op my vyande gewreek het.” Nie een van die manne het aan iets geproe nie. 25Almal van die land het die bos ingegaan en daar was heuning op die grond. 26Toe die manne in die bos ingaan, let op, was daar ’n oorvloed van heuning, maar niemand het sy hand aan sy mond gesit nie omdat die manne bang was vir die eed. 27Y’honatan het egter nie gehoor toe sy vader die manne onder eed geplaas het nie; daarom het hy die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek en dit in ’n heuningkoek gedoop en sy hand aan sy mond gesit en sy oë het verhelder. 28Toe sê een van die manne: “Jou vader het die manne streng onder eed geplaas: ‘Vervloek is die man wat vandag kos eet.’ Die manne was uitgeput. 29Toe sê Y’honatan: “My vader maak moeilikheid vir die land. Kyk nou hoe my oë opgehelder het omdat ek ’n bietjie van hierdie heuning geproe het. 30Hoeveel te meer, as die manne net vandag vrylik kon eet van die buit van hul vyande wat hulle gevind het, want nou is die slagting onder die F’lishtyne nie groot nie.”

31Hulle het die F’lishtyne daardie dag van Mikhmas af tot by Ayalon neergeslaan en die manne was baie uitgeput. 32Die manne het gretiglik op die buit afgestorm en kleinvee, beeste en kalwers gevat en dit op die grond geslag en die manne het dit met die bloed geëet. 33Toe vertel hulle Sha’ul en sê: “Let op, die manne sondig teen יהוה deur dit met die bloed te eet.” Hy het gesê: “Julle het vals opgetree; rol vandag ’n groot klip na my toe.” 34Sha’ul het gesê: “Versprei julle tussen die manne en sê vir hulle: ‘Bring na my elkeen sy bees en sy kleinvee en slag dit hier en eet en moenie teen יהוה sondig deur met bloed te eet nie.” Al die manne het elkeen daardie nag sy bees saam met hom gebring en dit daar geslag. 35Sha’ul het vir יהוה ’n altaar gebou; dit was die eerste altaar wat hy vir יהוה gebou het.

36Toe sê Sha’ul: “Laat ons afgaan in die nag agter die F’lishtyne aan en laat ons buit van hulle afvat tot die oggendlig en laat ons nie ’n man onder hulle laat oorbly nie. Hulle antwoord: “Doen wat ook al goed is in u oë.” Die priester het gesê: “Laat ons hier tot God nader.”

37Sha’ul het God geraadpleeg: “Sal ek afgaan agter die F’lishtyne aan? Sal U hulle in Yisra’el se hand gee?” Hy het hom egter nie daardie dag geantwoord nie. 38Sha’ul het gesê: “Kom nader hierheen, al die leiers van die volk en ondersoek en kyk hoe hierdie sonde vandag gebeur het, 39want soos יהוה leef wat Yisra’el verlos, al was dit ook in my seun Y’honatan, dan moet hy sekerlik sterf!” Niemand uit al die manskappe het hom egter geantwoord nie. 40Toe sê hy vir die hele Yisra’el: “Julle sal aan die een kant wees en ek en my seun Y’honatan sal aan die anderkant wees.” Die manne antwoord Sha’ul: “Doen wat vir u goed lyk.” 41Sha’ul het daarom vir יהוה, God van Yisra’el, gesê: “Gee ’n volmaakte keuse!” Y’honatan en Sha’ul is aangewys, maar die manne het vry gekom. 42Sha’ul het gesê: “Werp die lot tussen my en my seun Y’honatan.” Y’honatan is aangewys.

43Toe vra Sha’ul vir Y’honatan: “Vertel my wat jy gedoen het.” Y’honatan het hom vertel en gesê: “Ek het inderdaad ’n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was. Hier is ek, ek moet sterf.” 44Sha’ul het gesê: “Mag God dit aan my doen en ook meer, want jy moet sekerlik sterf, Y’honatan!” 45Die manne het egter vir Sha’ul gesê: “Moet Y’honatan sterf; wat hierdie groot bevryding in Yisra’el bewerk het? ’n Verwerplike gedagte! Soos יהוה leef, nie een haar van sy kop sal op die grond val nie, want hy het met God gewerk hierdie dag.” So het die volk Y’honatan bevry en hy het nie gesterf nie. 46Toe het Sha’ul opgehou om die F’lishtyne te agtervolg en die F’lishtyne het na hulle eie plek gegaan.

47Sha’ul het die koningskap oor Yisra’el gevat en het oorlog gevoer teen al sy vyande aan elke kant: teen Mo’av, die kinders van `Ammon, Edom, die konings van Tzovah en die F’lishtyne en waarheen hy ook al gedraai het, het hy straf uitgedeel. 48Hy het dapper opgetree en die `Amalekiete verslaan en Yisra’el bevry uit die hande van die wat hulle geplunder het.

49Die seuns van Sha’ul was Y’honatan, Yishvi en Malkishua en die name van sy twee dogters: die naam van die oudste dogter was Merav en die naam van die jongste Mikhal. 50Die naam van Sha’ul se vrou was Agino’am, die dogter van Agima’atz en die naam van die bevelvoerder van sy leër was Avner, die seun van Ner, die oom van Sha’ul. 51Kish, die vader van Sha’ul en Ner, die vader van Avner, was die seuns van Avi’el.

52Die oorlog teen die F’lishtyne was hewig al die dae van Sha’ul en wanneer Sha’ul enige kragtige of dapper man sien, het hy hom opgeneem by syne.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 13
Top of Page
Top of Page