1 Samuel 1
Afrikaans PWL
1Daar was ’n sekere man uit Ramatayim-Tzofim, van die Bergland van Efrayim en sy naam was Elkanah, die seun van Yerogam, die seun van Elihu, die seun van Togu, die seun van Tzuf, van Efrayim. 2Hy het twee vroue gehad; die naam van die een was Hannah en die naam van die ander was P’ninah. P’ninah het kinders gehad, maar Hannah het geen kinders gehad nie.

3Dié man het elke jaar opgegaan uit sy stad om op sy gesig neer te buig en aan יהוהTzva’ot (יהוה van die leërmag) te offer in Shiloh, waar die twee seuns van `Eli, Hofni en Pingas, priesters van יהוה was. 4Wanneer die dag kom dat Elkanah geoffer het, het hy vir sy vrou P’ninah en al haar seuns en haar dogters ’n porsie gegee, 5maar aan Hannah het hy ’n dubbele porsie gegee, want hy het Hannah liefgehad, maar יהוה het haar baarmoeder gesluit. 6Haar mededingster het haar egter bitterlik geterg om haar te irriteer omdat יהוה haar baarmoeder gesluit het. 7Dit het jaar na jaar gebeur, elke keer as sy opgaan na die huis van יהוה, het sy haar geterg; sy het dan gehuil en wou nie eet nie. 8Dan sê haar man, Elkanah, vir haar: “Hannah, waarom huil jy en waarom eet jy nie en waarom is jou binneste treurig? Is ek nie vir jou beter as tien seuns nie?”

9Hannah het opgestaan nadat hulle geëet en gedrink het in Shiloh en na die Huis van יהוה gegaan. `Eli, die priester, het op die stoel by die deurpos van die tempel van יהוה gesit. 10Sy het, baie bedroef, tot יהוה gebid en bitterlik gehuil. 11Sy het ’n gelofte gedoen en gesê: “יהוה-Tzva’ot, as U waarlik die ellende van U diensmaagd raaksien en my onthou en U diensmaagd nie vergeet nie, maar U diensmaagd ’n seun gee, dan sal ek hom aan יהוה gee al die dae van sy lewe en ’n skeermes sal nooit op sy kop kom nie.”

12Dit het gebeur terwyl sy aanhou bid voor יהוה dat `Eli haar mond dophou. 13Hannah het in haar binneste gepraat, net haar lippe het beweeg, maar haar stem is nie gehoor nie; `Eli het gedink dat sy dronk was. 14Toe sê `Eli vir haar: “Hoe lank wil jy jouself dronk maak? Sit jou wyn van jou af weg.” 15Hannah antwoord egter: “Nee, my meester, ek is ’n vrou wat in my gees onderdruk is; ek het nie wyn of sterk drank gedrink nie, maar ek het my verstand, wil en emosie voor יהוה uitgestort. 16Beskou tog nie u dienares as ’n waardelose vrou nie, want ek het tot nou toe vanuit my groot bekommernis en verdriet gepraat.” 17Toe antwoord `Eli en sê: “Gaan in vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid en mag die God van Yisra’el jou versoeke, wat jy van Hom gevra het, toestaan.” 18Sy sê: “Mag u dienares guns in u oë vind.” Die vrou het toe weggegaan en sy het geëet en haar gesig was nie dieselfde nie.

19Toe het hulle die oggend vroeg opgestaan en voor יהוה aanbid en teruggegaan na hulle huis in Ramah en Elkanah het ’n intieme verhouding met sy vrou Hannah gehad en יהוה het haar onthou. 20Dit het gebeur op die tyd nadat Hannah bevrug is dat sy geboorte gegee het aan ’n seun en hom Sh’mu’el genoem het, “want,” het sy gesê, “ek het hom van יהוה gevra.”

21Toe het die man, Elkanah, saam met sy huisgesin opgegaan om aan יהוה die jaarlikse offer en sy gelofte-offer te bring, 22maar Hannah het nie opgegaan nie, want sy het vir haar man gesê: “Wanneer die seun gespeen is, dan sal ek hom bring dat hy voor die Teenwoordigheid van יהוה kan verskyn en daar vir altyd bly.” 23Elkanah, haar man, het vir haar gesê: “Doen wat vir jou die beste is. Bly totdat jy hom gespeen het; mag יהוה net Sy woord bevestig.” Die vrou het gebly en haar seun versorg totdat sy hom gespeen het. 24Toe sy hom gespeen het, het sy hom saam met haar gebring, met ’n drie jaar oue bul, ’n efa meel en ’n houer wyn en sy het hom gebring na die Huis van יהוה in Shiloh, alhoewel die seun jonk was. 25Toe het hulle die bul geslag en die seun na `Eli toe gebring. 26Sy het gesê: “Ag, my meester, so waar as u self leef, my meester, ek is die vrou wat hier langs u gestaan en tot יהוה gebid het. 27Vir hierdie seun het ek gebid en יהוה het my versoek aan my gegee wat ek van Hom gevra het. 28So het ek hom ook toegewy aan יהוה; al die dae wat hy leef is hy aan יהוה toegewy.” Hulle het יהוה daar aanbid.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ruth 4
Top of Page
Top of Page