1 Petrus 2
Afrikaans PWL
1Gooi daarom alle boosheid, alle misleiding, bevooroordeeldheid, afguns en alle kwaadpratery af. 2Verlang sterk, soos babas wat nog drink, na die suiwer en geestelike melk van die boodskap, waardeur julle sterk kan groei vir die lewe, 3as julle geproe en gesien het dat יהוהgoed is;

4Hy na Wie julle naderkom, die Lewende Steen, wat deur die mense verwerp is, maar deur God gekies en kosbaar is. 5Julle word net so as lewende stene opgebou en julle het ’n geestelike tempel en afgesonderde priesters geword, om geestelike offers te bring wat vir God aanvaarbaar is deur Yeshua, Die Gesalfde Een.

6Dit word gesê in die Skrifte: “Let op, Ek lê in Tziyon ’n goedgekeurde en kosbare Hoeksteen en die wat in Hom vertrou, sal nooit beskaam word nie.”

7Vir die wat aanhou vertrou, is hierdie eer gegee, maar vir die wat nie vertrou nie

8is Hy: “’n Klip van struikeling en ’n Rots van aanstoot” en hulle struikel daaroor deurdat hulle nie die boodskap gehoorsaam nie, want hiervoor is hulle aangestel.

9Julle is ’n gekose nasie, om te dien as priesters in die Koninkryk, ’n afgesonderde volk, Eks 19:6 bymekaargemaak en bevry, om die lofprysinge van Hom, wat julle uit die duisternis geroep het, te verkondig tot Sy wonderlike lig, 10julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; vir wie niemand omgegee het nie, maar nou word omgee oor julle uitgestort.

11Julle vir wie ek liefhet, ek versoek julle, as tydelike bewoners en vreemdelinge, om julle te onthóu van vleeslike begeertes wat baklei teen die gees 12en laat julle manier van lewe onder al die mense mooi wees sodat hulle wat van julle kwaad praat, julle goeie dade kan sien en God kan eer, loof en aanbid in die dag van beoordeling.

13Wees dan ondergeskik aan alle mense ter wille van God; aan konings, as gevolg van hulle outoriteit; 14aan regters, want hulle is vanaf Hom gestuur om kwaaddoeners te straf en om die wat goed doen, te prys, 15want só is dit die wil van God: dat julle deur goed te doen, die monde van dwase mense sal stilmaak 16soos vrymense en nie soos hulle wat die vryheid as ’n verskoning vir die boosheid gebruik nie, maar soos slawe van God. 17Julle moet almal eer, die broers liefhê, God respekvol vrees en die koning eer.

18Huisbediendes, wees aan julle meesters gehoorsaam met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en sag is nie, maar ook aan die harde en bose, 19want daar is onverdiende guns vir iemand as hy, ter wille van sy gewete voor God, leed verdra wat van die Bose een af kom, 20want watter eer is daar as julle verdra wanneer julle as gevolg van dwaasheid verkeerd doen en geslaan word? As julle egter verdra wanneer julle goed doen en ly, dan word julle eer en lof voor God opgelig,

21want hiertoe is julle geroep omdat Die Gesalfde Een ook in julle plek gesterf en vir julle ’n voorbeeld nagelaat het sodat julle in Sy voetspore kan volg. 22Hy wat geen sonde gedoen het nie en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; 23Hy wat beledig is en nie beledig het nie; Hy het gely en niemand gedreig nie, maar het Sy oordeel oorgegee aan Hom wat regverdig oordeel; 24Hy het al ons sondes in Sy liggaam op die kruishout opgelig en as ons dood is aan sondes, sal ons in Sy onpartydige opregtheid lewe. Deur Sy wonde is julle gesond gemaak, 25want julle was soos verdwaalde skape, maar nou het julle teruggedraai na die Skaapwagter en Omgeegewer van julle lewe.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Peter 1
Top of Page
Top of Page