1 Konings 7
Afrikaans PWL
1Shlomo het dertien jaar aan sy eie huis gebou en die hele huis voltooi. 2Hy het die Huis van die Woud van L’vanon gebou, honderd el in sy lengte, vyftig el in sy breedte en dertig el in sy hoogte, op vier rye sederpilare en sederbalke op die pilare. 3Dit was met sederhout gedek van bo, op balke wat rus op die vyf en veertig pilare, vyftien in elke ry. 4Daar was drie rye kunstige vensters en venster was oorkant venster in drie rye. 5Al die deure en openinge het vierkantige uitgekerfde deurrame gehad en elke deur was oorkant ’n deur in drie rye.

6Toe het hy die Saal van Pilare gemaak; sy lengte was vyftig el en sy breedte dertig el, met ’n portaal daarvoor en pilare en ’n ingang voor hulle.

7Hy het die troonsaal gemaak waar hy sou regspraak gee, die regsaal en dit was gedek met sederhout vanaf die vloer tot by die plafon.

8Sy huis waar hy sou woon, die buitehof, aan die binnekant van die saal, was van dieselfde vakmanskap. Hy het ook so ’n huis gemaak vir die dogter van Farao, waarmee Shlomo getroud is.

9Dit was alles van kosbare klippe, wat volgens maat gekap is, binne en buite met sae gesaag, vanaf die fondament tot by die muurplate en net so aan die buitekant, tot by die groot hof.

10Die fondasie was van kosbare klippe, groot klippe, klippe van tien el en klippe van agt el. 11Bo was kosbare klippe, volgens maat gekap en sederhout. 12Die groot hof was rondom van drie rye gekapte klip en ’n laag sederbalke, net soos die binnehof van die huis van יהוה en die portaal van die huis.

13Koning Shlomo het gestuur en Hiram uit Tzor gebring. 14Hy was die seun van ’n weduwee uit die stam van Naftali en sy vader was ’n man van Tzor, ’n kopersmid en hy was vol wysheid, begrip en bekwaamheid om enige werk in koper te maak. Hy het by koning Shlomo gekom en al sy werk gedoen.

15Hy het die twee pilare van koper gevorm; agttien el was die hoogte van een pilaar en ’n lyn van twaalf el kon die omtrek van beide meet. 16Hy het ook twee pilaarkoppe gemaak van gegote koper om op die toppe van die pilare te sit; vyf el was die hoogte van die een pilaarkop en vyf el was die hoogte van die ander pilaarkop. 17Daar was nette van netwerk en gevlegte stringe van kettingwerk vir die pilaarkoppe wat op die top van die pilare was; sewe vir die een pilaarkop en sewe vir die ander pilaarkop. 18So het hy die pilare gemaak en twee rye vlegwerk rondom die een, om die pilaarkoppe, wat bo-op die granate was, toe te maak en net so het hy vir die ander pilaarkop gemaak. 19Die pilaarkoppe bo-op die pilare in die portaal was vier el, ’n lelieontwerp. 20Daar was pilaarkoppe op die twee pilare, bo-aan en naby die geronde projeksie, langs die netwerk en die granate was twee honderd, in rye rondom beide pilaarkoppe. 21So het hy die pilare opgerig by die portaal van die hoofvertrek en hy het die regterpilaar opgerig en dit Yakhin genoem en hy het die linkerpilaar opgerig en dit Bo’az genoem. 22Bo-op die pilare was lelieontwerpe. Die werk aan die pilare is voltooi.

23Nou het hy die see gemaak van gietwerk; van rand tot rand was dit tien el, rond van vorm en die hoogte daarvan was vyf el en dertig el in omtrek. 24Onder sy rand het kalbassies dit rondom omring; tien op die el het hulle die see heeltemal omring: die kalbasse was in twee rye, gegiet saam met die res. 25Dit het gestaan op twaalf beeste: drie kyk na die noorde, drie kyk na die weste, drie kyk na die suide en drie kyk na die ooste toe en die see was bo-op hulle en hulle agterkante was na binne gedraai. 26Dit was ’n handbreedte dik en sy rand was soos die rand van ’n beker, soos ’n lelieblom; dit kon twee duisend bat (50 000 liter) hou.

27Toe het hy die tien staanders van koper gemaak; die lengte van elke staander was vier el, sy breedte vier el en sy hoogte drie el. 28Hierdie was die ontwerp van die staanders: dit het rante gehad, gelyke rante tussen die rame; 29op die rante wat tussen die rame was, was leeus, beeste en gérubs; bo-op die rame was daar ’n staander en onder die leeus en beeste was afhangende kransies. 30Elke staander het vier koper wiele met koper asse gehad en sy vier voete het versterkings gehad; onder teen die bak was die versterkings gegiet met kransies aan elke kant. 31Sy opening binne die kroon aan die bokant was een el en die opening was rond, soos die ontwerp van ’n staander, anderhalf el en op sy opening was daar ook graveerwerk en die rante was vierkantig, nie rond nie. 32Die vier wiele was onder die rante en die asse van die wiele was op die bak. Die hoogte van elke wiel was anderhalf el. 33Die ontwerp van die wiele was soos die ontwerp van ’n strydwawiel. Hulle asse, vellings, speke en nawe was alles gietwerk. 34Daar was vier versterkings op die vier hoeke van elke staander; die versterkings was deel van die staander self. 35Bo-op die staander was daar ’n ronde vorm van ’n half-el hoog wat bo-op die staander gebly het en sy rant was deel daarvan. 36Hy het op die plate van sy kante en op sy rant gérubs, leeus en palmbome graveer volgens die ruimte op elkeen, met kransies rondom. 37So het hy die tien staanders gemaak: almal het een gietwerk gehad, een maat en een vorm.

38Hy het tien waskomme van koper gemaak; elke kom het veertig bat gehou (220 liter) en elke kom was vier el; een kom was op elke bak van die tien staanders. 39Toe het hy die staanders opgestel: vyf aan die regterkant van die huis en vyf aan die linkerkant van die huis en hy het die see van gegote metaal aan die regterkant van die huis opgestel, na die suide toe.

40Hiram het die potte en die grawe en die komme gemaak. So het Hiram dan al die werk voltooi wat hy vir koning Shlomo in die huis van יהוה gedoen het: 41die twee pilare met die twee balle van die pilaarkoppe wat op die top van die twee pilare was en die twee netwerke om die twee balle van die pilaarkoppe wat op die top van die pilare is, te oordek 42en die vier honderd granate vir die twee netwerke; twee rye granate vir elke netwerk, om die twee balle van die pilaarkoppe bo-op die pilare te oordek 43en die tien staanders met die tien waskomme op die staanders 44en die een see en die twaalf beeste onder die see 45en die potte, die grawe en die komme; al hierdie voorwerpe wat Hiram vir koning Shlomo in die huis van יהוה gemaak het, was van gepoleerde koper. 46In die vlakte van die Yarden het die koning dit gegiet; in die kleigrond tussen Sukkot en Tzartan. 47Shlomo het al die voorwerpe ongeweeg gelaat omdat daar te veel was; die gewig van die koper kon nie bereken word nie.

48Shlomo het al die voorwerpe wat in die huis van יהוה was, gemaak: die goue altaar, die goue tafel waarop die brode van die Teenwoordigheid moes lê 49en die kandelare voor die binnevertrek van suiwer goud, vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant en die blomme, die lampe en die tange, van goud 50en die bekers, die snuiters, die komme, die lepels, die vuurpanne, van suiwer goud en die skarniere van die deure van die binnevertrek, van die Mees Afgesonderde Plek en die deure van die huis, van die hoofvertrek, van goud.

51So is al die werk wat koning Shlomo aan die huis van יהוה gemaak het, voltooi. Shlomo het die dinge wat deur sy vader Dawid afgesonder is, ingebring; die silwer, die goud en die gereedskap het hy in die skatkamers van die huis van יהוה gesit.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Kings 6
Top of Page
Top of Page