1 Konings 5
Afrikaans PWL
1Hiram, die koning van Tzor, het sy diensknegte na Shlomo gestuur toe hy gehoor het dat hulle hom in sy vader se plek as koning gesalf het, want Hiram was altyd ’n vriend van Dawid. 2Daarop laat Shlomo vir Hiram weet en sê: 3“U weet dat my vader Dawid geen huis vir die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה, sy God, kon bou nie vanweë die oorloë wat hom omring het totdat יהוה hulle onder sy voetsole gesit het (aan hom onderwerp het), 4maar nou het יהוה, my God, my rus gegee aan elke kant; daar is geen teëstander of teëspoed nie. 5Let op, ek beplan om vir die Karakter en Outoriteit (Naam) van יהוה, my God, ’n huis te bou soos יהוה met my vader Dawid gepraat en gesê het: ‘Jou seun wat Ek in jou plek op jou troon sal sit, hy sal die huis vir My Karakter en Outoriteit bou.’ 6Nou, daarom, beveel dat hulle vir my seders uit die L’vanon kap en laat my diensknegte saam met u diensknegte wees en ek sal vir u die lone van u diensknegte gee volgens alles wat u sê, want u weet dat onder ons niemand is wat weet hoe om bome te kap soos die Tzidoniete nie.”

7Toe Hiram die woorde van Shlomo hoor, was hy baie bly en het gesê: “Geseënd is יהוה vandag wat vir Dawid ’n wyse seun oor hierdie groot volk gegee het.” 8Hiram laat weet vir Shlomo en sê: “Ek het die boodskap gehoor wat u vir my gestuur het; ék sal doen alles wat u begeer aangaande die sederhout en die sipreshout. 9My diensknegte sal dit van die L’vanon afbring na die see en ék sal hulle daar in vlotte maak op die see, tot by die plek wat u my sal wys en ek sal dit daar uitmekaar laat haal en ú sal dit laat wegdra. Dan sal ú my behoefte vervul deur kos aan my huishouding te gee.” 10So het Hiram dan vir Shlomo sederhout en sipreshout gegee, soveel as wat hy wou hê. 11Shlomo het toe vir Hiram 4 400 ton koring as voedsel vir sy huis en 4 400 liter uitgestampte olie gegee; so het Shlomo jaar vir jaar vir Hiram gegee. 12יהוה het vir Shlomo wysheid gegee, net soos Hy hom belowe het en daar was vrede tussen Hiram en Shlomo en hulle twee het ’n verbond gesluit.

13Koning Shlomo het dwangarbeiders uit die hele Yisra’el getrek en die dwangarbeiders was dertig duisend man. 14En hy het hulle na L’vanon gestuur in aflossings van tien duisend per maand; een maand was hulle in L’vanon, twee maande tuis. Adoniram was oor die dwangarbeiders. 15Shlomo het sewentig duisend draers en tagtig duisend klipkappers in die berge gehad, 16behalwe vir die drie duisend drie honderd hoofopsigters van Shlomo wat oor die projek was en bevel gevoer het oor die mense wat die werk doen. 17Toe het die koning beveel en hulle het groot klippe, kosbare klippe, uitgebreek om die fondament van die huis met gekapte klippe te lê. 18Shlomo se bouers, Hiram se bouers en die G’valiete het dit gekap en die boomstamme en die klippe voorberei om die huis te bou.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Kings 4
Top of Page
Top of Page