1 Konings 2
Afrikaans PWL
1Toe die dae van Dawid naderkom dat hy sou sterf, het hy sy seun Shlomo beveel en gesê: 2“Ek gaan op die pad van die hele aarde. Wees daarom onveranderlik sterk en wys jouself ’n man. 3Onderhou die opdragte van יהוה, jou God, deur te loop op Sy paaie, deur Sy wette, Sy opdragte, Sy instellings en Sy getuienisse te gehoorsaam, volgens wat geskryf is in die wet van Moshe sodat jy suksesvol kan wees in alles wat jy doen en waarheen jy ook al draai 4sodat יהוה Sy beloftes kan uitvoer wat Hy aangaande my gesê het, naamlik: ‘As jou seuns versigtig is op hulle pad deur voor My in waarheid te loop met hulle hele gees en met hulle hele verstand, wil en emosie, sal daar nie vir jou ’n man op die troon van Yisra’el ontbreek nie.’

5Jy weet ook wat Yo’av, die seun van Tz’ruyah, aan my gedoen het; wat hy aan die twee bevelvoerders van die leër van Yisra’el, Avner, die seun van Ner en `Amasa, die seun van Yeter, gedoen het; wat hy vermoor het en ook oorlogsbloed in vredestyd vergiet het en hy het die oorlogsbloed op sy gordel om sy heupe en op die sandale aan sy voete gesit. 6Tree op volgens jou wysheid en moenie sy grys hare in vrede in Sh’ol laat afgaan nie, 7maar wys goedheid aan die seuns van Barzillai, die Gil’adiet en laat hulle wees onder dié wat aan jou tafel eet, want hulle het my bygestaan toe ek vir jou broer Avshalom gevlug het. 8Let op, Shim’i, die seun van Gera, die Binyaminiet van Bagurim, is daar by jou; dit is hy wat my vervloek het met ’n hewige vloek op die dag toe ek na Maganayim gegaan het, maar toe hy afgekom het na my by die Yarden, het ek vir hom by יהוה gesweer en gesê: “Ek sal jou nie met die swaard doodmaak nie.” 9Nou, daarom moet jy hom nie ongestraf laat bly nie, want jy is ’n wyse man en jy sal weet wat jy aan hom moet doen en sy grys hare met bloed in Sh’ol afbring.”

10Toe is Dawid by sy vaders neergelê en is begrawe in die stad van Dawid. 11Die dae wat Dawid oor Yisra’el regeer het, was veertig jaar: in Hevron het hy sewe jaar regeer en drie en dertig jaar in Yerushalayim. 12Shlomo het op die troon van Dawid, sy vader, gaan sit en sy koningskap was stewig vasgemaak.

13Adoniyah, die seun van Haggit, het na Bat-Sh’va, die moeder van Shlomo, gekom en sy het gevra: “Kom jy in vrede?” Hy antwoord: “In vrede.” 14Toe het hy gesê: “Ek het iets om vir u te sê.” Sy antwoord: “Praat.” 15Hy het gesê: “U weet dat die koningskap myne was en dat die hele Yisra’el verwag het dat ek koning sou wees; die koningskap het egter oorgegaan en my broer s’n geword, want dit was syne vanaf יהוה. 16Nou rig ek een versoek tot u; moet my nie weier nie.” Sy antwoord hom: “Praat.” 17Toe sê hy: “Praat asseblief met Shlomo, die koning, want hy sal u nie weier nie, dat hy Avishag, die Shunamiet, vir my as vrou moet gee.” 18Bat-Sh’va het gesê: “Goed, ék sal met die koning namens jou praat.”

19Bat-Sh’va het na koning Shlomo gegaan om met hom namens Adoniyah te praat en die koning het opgestaan om haar te ontmoet, voor haar neergebuig en op sy troon gaan sit; toe het hy vir die moeder van die koning ’n troon laat opstel en sy het aan sy regterhand gesit. 20Toe sê sy: “Ek het een klein versoekie vir u; moet my nie weier nie.” Die koning antwoord haar: “Vra, my moeder, want ek sal u nie weier nie.” 21Sy sê: “Laat Avishag, die Shunamiet, vir u broer Adoniyah as vrou gegee word.” 22Koning Shlomo antwoord en sê vir sy moeder: “Waarom vra u Avishag, die Shunamiet, vir Adoniyah? Vra ook die koningskap vir hom, want hy is my ouer broer. Vir hom, vir Evyatar, die priester en vir Yo’av, die seun van Tz’ruyah!” 23Toe sweer koning Shlomo by יהוה en sê: “Mag God so aan my doen en ook meer, as Adoniyah nie hierdie woord teen sy eie lewe gepraat het nie. 24Nou, daarom, soos יהוה leef wat my bevestig het en my op die troon van my vader Dawid laat sit en vir my ’n huis gemaak het volgens sy belofte, sal Adoniyah sekerlik vandag doodgemaak word!” 25Koning Shlomo het vir B’nayah, die seun van Y’hoyada gestuur en hy het hom aangeval sodat hy dood is.

26Toe sê die koning vir Evyatar, die priester: “Gaan na `Anatot, na jou eie grond, want jy verdien om te sterf, maar ek sal jou nie nou doodmaak nie omdat jy die ark van die Meester, יהוה, voor my vader Dawid uit gedra het en omdat jy alles gely het wat my vader gely het.” 27So het Shlomo Evyatar ontslaan sodat hy nie meer priester van יהוה was nie, om die woord van יהוה te vervul wat Hy oor die huis van `Eli in Shiloh gespreek het.

28Die nuus het by Yo’av gekom, want Yo’av het Adoniyah gevolg, alhoewel hy nie vir Avshalom gevolg het nie. Yo’av het na die tent van יהוה gevlug en die horings van die altaar vasgegryp. 29Dit is vir koning Shlomo vertel dat Yo’av gevlug het na die tent van יהוה en let op, hy is langs die altaar! Toe stuur Shlomo vir B’nayah, die seun van Y’hoyada en sê: “Gaan, val hom aan.” 30B’nayah het by die tent van יהוה gekom en vir hom gesê: “So het die koning gesê: “Kom uit.” Hy sê egter: “Nee, want ek sal sterf.” B’nayah het weer woord na die koning gebring en gesê: “Só het Yo’av gepraat en só het hy my geantwoord.” 31Die koning sê vir hom: “Doen soos hy gepraat het en val hom aan en begrawe hom sodat jy die onskuldige bloed wat Yo’av vergiet het, van my en my vader se huis af kan verwyder. 32יהוה sal sy bloed op sy eie kop laat terugkeer omdat hy twee manne, meer onpartydig opreg en beter as hy, aangeval en hulle met die swaard vermoor het sonder dat my vader Dawid daarvan geweet het: Avner, die seun van Ner, die bevelvoerder van die leër van Yisra’el en `Amasa, die seun van Yeter, die bevelvoerder van die leër van Y’hudah 33sodat hulle bloed op die kop van Yo’av en op die kop van sy nageslag vir ewig kan terugkeer, maar vir Dawid, sy nageslag, sy huis en sy troon, mag daar vrede wees vanaf יהוה vir ewig.” 34Toe het B’nayah, die seun van Y’hoyada, opgegaan en hom aangeval en hom doodgemaak en hy is begrawe by sy eie huis in die wildernis. 35Die koning het vir B’nayah, die seun van Y’hoyada, in sy plek oor die leër aangestel en die koning het Tzadok, die priester, aangestel in die plek van Evyatar.

36Die koning het vir Shim’i laat roep en vir hom gesê: “Bou vir jouself ’n huis in Yerushalayim en leef daar, moenie van daar af uitgaan na enige plek toe nie, 37want op die dag dat jy uitgaan en oor die spruit Kidron gaan, moet jy verseker weet dat jy sekerlik sal sterf; jou bloed sal op jou eie kop wees.” 38Shim’i sê toe vir die koning: “Die woord is goed. Soos my meester, die koning, gesê het, so sal u dienskneg doen.” Shim’i het baie dae in Yerushalayim gebly,

39maar dit het gebeur aan die einde van drie jaar dat twee van Shim’i se slawe weggeloop het na Akhish, die koning van Gat, die seun van Ma’akhah. Hulle het vir Shim’i vertel en gesê: “Let op, jou slawe is in Gat.” 40Toe staan Shim’i op en saal sy donkie op en gaan na Gat, na Akhish, om sy slawe te soek en Shim’i het gegaan en sy slawe van Gat af gebring. 41Dit is vir Shlomo vertel dat Shim’i uit Yerushalayim na Gat gegaan en teruggekom het. 42Die koning stuur en laat vir Shim’i roep en sê vir hom: “Het ek jou nie by יהוה laat sweer en jou ernstig gewaarsku en gesê: “Jy moet verseker weet dat op die dag dat jy weggaan en na enige plek gaan, sal jy sekerlik sterf,” nie? Jy het vir my gesê: ‘Die woord wat ek gehoor het, is goed.’ 43Waarom het jy dan nie die eed van יהוה en die opdrag wat ek jou opgelê het, gehou nie?” 44Die koning het ook vir Shim’i gesê: “Jy ken self al die boosheid wat jy erken in jou verstand, wat jy aan my vader Dawid gedoen het; daarom sal יהוה jou boosheid op jou eie kop laat terugkeer, 45maar koning Shlomo sal geseënd wees en die troon van Dawid sal voor יהוה vir ewig bevestig word!” 46Die koning het B’nayah, die seun van Y’hoyada, beveel en hy het uitgegaan en hom aangeval sodat hy gesterf het. So is die koningskap bevestig in die hand van Shlomo.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse Vertaling (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Kings 1
Top of Page
Top of Page