1 Konings 19
Afrikaans PWL
1Ag’av het vir Izevel alles vertel wat Eliyahu gedoen het en hoe hy al die profete met die swaard doodgemaak het. 2Toe stuur Izevel ’n boodskapper na Eliyahu en sê: “Mag die gode so met my doen en selfs meer, as ek nie jou lewe teen môre omtrent hierdie tyd maak soos die lewe van een van hulle, nie.” 3Hy was bang en het opgestaan en vir sy lewe gehardloop en by Be’er-Sh’va, wat aan Y’hudah behoort, gekom en sy dienskneg daar gelos. 4Hyself het egter ’n dagreis ver die wildernis ingegaan en daar onder ’n jeneverbos gaan sit en gewens dat hy mag sterf en hy het gesê: “Dit is genoeg; יהוה, vat nou my lewe, want ek is nie beter as my vaders nie.” 5Hy het gaan lê en slaap onder ’n jeneverbos en let op, daar was ’n engel wat hom aangeraak het en vir hom sê: “Staan op, eet!” 6Toe hy kyk, let op, was daar ’n broodkoek, op warm klippe gebak en ’n kruik water by sy kop. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7Die engel van יהוה het weer vir die tweede maal gekom en hom aangeraak en gesê: “Staan op, eet, want die pad is te veel vir jou.” 8Hy het opgestaan, geëet en gedrink en deur die krag van daardie kos veertig dae en veertig nagte lank gereis tot by Horev, die berg van God.

9Toe kom hy daar by ’n grot en het daar gebly en let op, die woord van יהוה het tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Eliyahu?” 10Hy antwoord: “Ek was baie ywerig vir יהוה, die God van die leërskare, want die seuns van Yisra’el het U verbond verlaat, U altare afgebreek en U profete met die swaard doodgemaak en ek alleen is oor en hulle soek my lewe om dit weg te vat.”

11Hy sê: “Gaan en staan op die berg voor die Teenwoordigheid van יהוה.” Let op, יהוה het verbygegaan. ’n Groot en sterk wind het die berge geskeur en die rotse in stukke gebreek voor יהוה; יהוה was nie in die wind nie; ná die wind, ’n aardbewing; יהוה was nie in die aardbewing nie; 12ná die aardbewing, ’n vuur; יהוה was nie in die vuur nie; ná die vuur, die klank van ’n sagte gewaai. 13Toe Eliyahu dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die grot gaan staan. Let op, daar kom ’n stem na hom toe wat sê: “Wat maak jy hier, Eliyahu?” 14Toe antwoord hy: “Ek was baie ywerig vir יהוה, die God van die leërskare, want die seuns van Yisra’el het U verbond verlaat, U altare afgebreek en U profete met die swaard doodgemaak en ek alleen is oor en hulle soek my lewe om dit weg te vat.”

15יהוה sê vir hom: “Gaan terug op jou pad na die wildernis van Dammesek en wanneer jy aangekom het, moet jy Haza’el koning oor Aram salf; 16Yehu, die seun van Nimshi, moet jy salf as koning oor Yisra’el; Elisha, die seun van Shafat, vanaf Avel-M’golah, moet jy salf as profeet in jou plek. 17Dit sal gebeur: die een wat van die swaard van Haza’el ontsnap, sal Yehu doodmaak en die een wat van die swaard van Yehu ontsnap, sal Elisha doodmaak. 18Tog sal Ek sewe duisend in Yisra’el laat oorbly, al die knieë wat nie voor Ba’al gebuig en elke mond wat hom nie gesoen het nie.”

19Hy het toe daarvandaan weggegaan en Elisha, die seun van Shafat, gekry terwyl hy geploeg het met twaalf paar osse voor hom en hyself met die twaalfde paar. Eliyahu het na hom toe oorgegaan en sy mantel op hom gegooi. 20Hy het die osse gelos en agter Eliyahu aan geloop en gesê: “Laat ek asseblief my vader en my moeder soen; dan sal ek u volg.” Hy antwoord hom: “Gaan weer terug, want wat het ek aan jou gedoen?” 21Hy het teruggedraai daarvan om hom te volg en die paar osse gevat en hulle geoffer en met die osse se trekgoed het hy hulle vleis gekook en aan die mense gegee en hulle het geëet. Toe het hy opgestaan en Eliyahu gevolg en hom bedien.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Kings 18
Top of Page
Top of Page