1 Korinthiërs 5
Afrikaans PWL
1Seksuele immoraliteit onder julle word, in kort, gerapporteer en seksuele immoraliteit van so ’n aard as wat selfs onder die ander nasies nie genoem word nie: dat iemand die vrou van sy vader gevat het. 2Julle is trots en moet eerder treur sodat hy, wat hierdie daad gedoen het, van tussen julle uit verwyder word,

3want ek self, liggaamlik afwesig, maar in die gees teenwoordig, het hom wat so iets gedoen het, alreeds geoordeel, asof ek teenwoordig was. 4Wanneer julle vergader en my gees saam met julle, in die Outoriteit en Karakter van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, lewer so iemand aan die teëstander oor tot vernietiging van die menslike natuur in die krag van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een 5sodat die gees gered kan word in die dag van ons Meester Yeshua.

6Julle grootpratery is nie goed nie. Weet julle nie? “Dit neem ’n klein bietjie suurdeeg om die hele baksel deeg te fermenteer.” 7Gooi die ou suurdeeg uit sodat julle ’n nuwe stuk deeg kan wees, soos wat julle eintlik ongesuurd is, want ons Pesaglam, Die Gesalfde Een, is vir ons geslag. 8As gevolg hiervan, laat ons dan die fees hou, nie met die ou suurdeeg of met suurdeeg wat in boosheid of bitterheid is nie, maar met die ongesuurdheid van reinheid en afgesonderdheid.

9Ek het vir julle in ’n brief geskryf om nie met seksueel immorele mense te meng nie; 10dit beteken nie die seksueel immorele mense van hierdie wêreld of die gierigaards of skelms of afgodedienaars nie, want dan sou julle uit die wêreld uit moes gaan, 11maar dít het ek aan julle geskryf: om nie te meng met iemand wat ’n broer genoem word en dan ’n seksueel immorele mens is of ’n gierigaard of ’n afgodsdienaar of ’n kwaadprater of ’n dronkaard of ’n skelm is nie. Met so iemand moet julle selfs nie saam brood eet nie, 12want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel die wat binne is, 13maar die wat buite is, word deur God geoordeel. Verwyder die bose een onder julle uit.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Corinthians 4
Top of Page
Top of Page