1 Korinthiërs 11
Afrikaans PWL
1Word my nabootsers, net soos ek ook Die Gesalfde Een naboots.

2Ek prys julle, my broers, dat julle my in alles onthou en die opdragte uitvoer soos ek dit aan julle oorgegee het, 3maar ek wil hê dat julle moet weet dat Die Gesalfde Een die hoof is van elke man en die man is die hoof van die vrou en God is die hoof van Die Gesalfde Een. 4Elke man wat bid of profeteer met sy kop toegemaak, onteer sy kop 5en elke vrou wat bid of profeteer met haar kop ontbloot, onteer haar kop, want sy is net soos een wie se kop geskeer is, 6want as ’n vrou se kop nie toegemaak is nie, laat sy dan ook haar kop skeer, maar as dit vir ’n vrou lelik is om haar hare te sny of te skeer, laat sy haar kop heeltemal toemaak. 7’n Man is nie verplig om sy kop toe te maak nie omdat hy die beeld, eer en lof van God is, maar die vrou is die eer en lof van die man, 8want die man is nie vanuit die vrou nie, maar die vrou vanuit die man 9en die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man. 10Die vrou moet daarom ’n aanduiding van outoriteit oor haar kop hê ter wille van die engele. 11Tog is die man nie afsonderlik van die vrou nie en die vrou ook nie afsonderlik van die man in ons Meester nie, 12want net soos die vrou vanuit die man is, so is ook die man deur die vrou, maar alles is vanaf God. 13Beoordeel onder julleself: is dit reg vir ’n vrou om met onbedekte kop tot God te bid? 14Of leer die natuur self julle nie dat as ’n man sy hare laat groei, dit vir hom ’n oneer is nie 15en wanneer ’n vrou haar hare laat groei, dit vir haar ’n eer en lof is omdat haar hare vir haar gegee is as ’n bedekking nie? 16As iemand hieroor wil stry; nie ons of die gemeentes van God het so ’n gebruik nie,

17maar in die gee van die volgende opdrag, kan ek julle nie loof nie omdat dit nie tot julle voordeel is dat julle bymekaargekom het nie, maar julle het tot gemeenheid afgedaal. 18In die eerste plek hoor ek dat, as julle bymekaarkom in die gemeente, daar verdeeldheid onder julle is en sekere dinge glo ek, 19want daar sál ook verskille onder julle wees sodat dié wat goedgekeur word onder julle bekend mag word. 20Wanneer julle so bymekaarkom, dan is dit nie op die regte manier dat julle op die dag van ons Meester eet en drink nie, 21want elkeen eet voor die ander, op sy eie en die een ly honger terwyl die ander dronk is. 22Het julle dan nie huise om in te eet en te drink nie? Of verag julle die gemeente van God en maak julle dié skaam wat nie het nie? Wat sal ek vir julle sê? Sal ek julle loof? Hierin loof ek julle nie,

23want ek het van ons Meester gekry wat ek ook aan julle oorgegee het, dat ons Meester, Yeshua, in die nag waarin Hy oorgegee is, brood gevat het 24en Hy het dit geseën, dit gebreek en gesê: ‘Vat en eet; dit is My liggaam wat vir julle gebreek word; so moet julle doen om aan My te dink.’ 25Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond in My bloed; so moet julle dit doen, elke keer as julle drink om aan My te dink,’ 26want elke keer as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, onthou julle die dood van ons Meester totdat Hy kom.

27Wie, daarom, van die brood van יהוה eet en van Sy beker drink en nie daaraan waardig is nie, is skuldig aan die liggaam en die bloed van יהוה. 28Laat elkeen sy verstand, wil en emosie as gevolg hiervan ondersoek en dan van die brood eet en uit die beker drink, 29want wie ook al eet en drink terwyl hy onwaardig is, eet en drink ’n oordeel oor homself, as hy die liggaam van יהוה nie erken nie. 30As gevolg hiervan is daar baie onder julle wat siek en sieklik is en baie sterf, 31want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie, 32maar as ons geoordeel word deur ons Meester, word ons ernstig gestraf sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.

33Van nou af, my broers, as julle bymekaarkom om te eet, wag vir mekaar 34en as iemand honger het, laat hom by die huis eet sodat julle nie tot ’n oordeel bymekaarkom nie. Aangaande die ander sake sal ek opdragte gee wanneer ek kom.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Corinthians 10
Top of Page
Top of Page