1 Korinthiërs 1
Afrikaans PWL
1Sha’ul, geroepe en ’n afgevaardigde van Yeshua, Die Gesalfde Een, in die wil van God en die broer Sosthenes,

2aan die gemeente van God wat in Korinthos is, geroepe en afgesonderd; wat in Yeshua, Die Gesalfde Een, afgesonder is, saam met almal wat die Outoriteit en Karakter van ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een, in elke plek aanroep, hulle Meester sowel as ons s’n:

3onverdiende guns vir julle en vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid van God, ons Vader en ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een!

4Ek dank my God elke keer namens julle vir die onverdiende guns van God wat vir julle in Die Gesalfde Een, Yeshua, gegee word, 5want in alle opsigte is julle in Hom verryk, in elke onderwerp en in alle kennis, 6net soos die getuienis aangaande Die Gesalfde Een bevestig is in julle, 7want julle kom geen geestelike gawe kort nie, maar julle verwag die openbaarmaking van ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een, 8wat julle ook sal laat vasstaan tot die einde toe, om in die dag van ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een, sonder beskuldiging te wees. 9God is vertrouenswaardig, want deur Hom is julle geroep tot die gemeenskap met Sy Seun Yeshua, Die Gesalfde Een, ons Meester.

10Ek versoek julle egter, broers, deur die Outoriteit en Karakter van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, om almal uit een mond te praat en dat daar nie verdeeldheid tussen julle sal wees nie, maar dat julle volmaak sal word in dieselfde gedagtes en in dieselfde opinie, 11want, my broers, ek is, deur die huis van Kloë, aangaande julle laat weet: dat daar verskille onder julle is. 12Dit sê ek: dat daar sommige van julle is wat sê: “Ek is van Sha’ul.” Ander sê: “Ek is van Apollos.” Ander sê: “Ek is van Kefa.” Ander sê: “Ek is van Die Gesalfde Een.” 13Het Die Gesalfde Een Homself verdeel? Is Sha’ul miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die outoriteit en karakter van Sha’ul gedoop? 14Ek dank my God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispos en Gaios 15sodat niemand kan sê dat ek in my outoriteit en karakter gedoop het nie. 16[Ek het ook nog die huisgesin van Estefana gedoop.] Verder weet ek nie of ek iemand anders gedoop het nie, 17want Die Gesalfde Een het my nie gestuur om te doop nie, maar om die goeie boodskap te verkondig, nie met wysheid van woorde nie sodat die kruis van Die Gesalfde Een nie verwerp mag word nie,

18want die boodskap van die kruis is dwaasheid vir die wat besig is om vernietig te word, maar vir ons wat lewe het, is dit die krag van God,

19want daar is geskrywe: “Ek sal die wysheid van die wyses vernietig en die opinies van die slimmes wegvat.”

20Waar is die wyse? Waar is die leraar van die wet? Waar is die debatteerder van hierdie wêreld? Let op, het God nie die wysheid van hierdie wêreld as dwaas bewys nie? 21Aangesien God deur Sy wysheid bepaal het dat die wêreld God nie sal ken deur sy eie wysheid nie, het God dit goedgedink om deur die dwaasheid van die verkondiging, aan die wat vertrou, lewe te gee. 22Omdat die Jode ’n teken vra en die Arameërs wysheid soek, 23verkondig ons Die Gesalfde Een wat gekruisig is, ’n verleentheid vir die Jode en dwaasheid vir die Arameërs, 24maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Arameërs, is Hy Die Gesalfde Een, die Krag en Wysheid van God,

25want wat dwaas is by God, is wyser as die mens en wat swak is by God, is sterker as die mens.

26Kyk na julle eie roeping, my broers: nie baie onder julle is wys na die vlees nie; nie baie onder julle is sterk nie; nie baie onder julle is uit ’n hoë familie nie, 27maar wat dwaas is by die wêreld, het God gekies om die wyse te beskaam en wat swak is by die wêreld, het God gekies om die wat sterk is, te beskaam 28en wat van ’n lae stand is by die wêreld en verag is, het God gekies en wat niks is nie, om wat iets is, waardeloos te maak 29sodat niemand voor Hom sou roem nie. 30Vanuit Hom is julle in eenheid met Die Gesalfde Een, Yeshua, wat vir ons die Wysheid van God, Onpartydige Opregtheid, Afsondering en Verlossing geword het 31sodat, net soos geskrywe is: “Die wat roem, moet in יהוה roem.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Romans 16
Top of Page
Top of Page