1 Kronieke 19
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur na hierdie dinge dat Nagash, koning van die seuns van `Ammon, sterf en sy seun, Hanun, het in sy plek geheers. 2Toe sê Dawid: “Ek sal guns bewys aan Hanun, die seun van Nagash, net soos sy vader aan my guns bewys het;” daarom het Dawid boodskappers gestuur om hom te troos oor sy vader. Dawid se diensknegte het in die land van die seuns van `Ammon, by Hanun, aangekom om hom te troos, 3maar die prinse van die seuns van `Ammon het vir Hanun, hulle meester, gesê: “Dink u dat Dawid werklik u vader geëer het terwyl hy geleef het en waarlik troosters na u gestuur het? Dit is om op die stad te spioeneer en die ingange en uitgange te bestudeer dat Dawid sy diensknegte gestuur het.” 4Hanun het die diensknegte van Dawid gevat en die helfte van hulle baard en kop afgeskeer en hulle klere in die helfte gesny tot by die sitvlak en hulle weggestuur. 5Toe hulle Dawid vertel het, het hy manne gestuur om hulle te ontmoet, want die manne was baie skaam en die koning het vir hulle gesê: “Bly in Yerigo totdat julle baarde weer gegroei het en kom dan terug.

6Toe die seuns van `Ammon sien dat hulle hul by Dawid se diensknegte gehaat gemaak het, het Hanun en die seuns van `Ammon ’n duisend talente silwer gestuur om vir hulle strydwaens en perderuiters uit Aram-Naharayim, Aram-Ma’akhah en uit Tzovah te huur. 7Hulle het vir hulle twee en dertig duisend perderuiters, die koning van Ma’akhah, die koning van Aram-Naharayim met sy manskappe en die koning van Edom en al hulle leërmagte gehuur en hulle het voor Me’ideva kamp opgeslaan. Die seuns van `Ammon het bymekaargekom vanuit hulle stede om te veg. 8Dawid het dit gehoor en Yo’av met die hele leër van magtige manne gestuur. 9Die seuns van `Ammon het uitgekom en hulle in slagorde opgestel by die poort van die stad terwyl die konings, wat gekom het en hulle leërmagte, afsonderlik in die veld was.

10Toe Yo’av sien dat die geveg heftig van voor sowel as van agter teen hom is, het hy sommige van die dapper manne uit Yisra’el gekies en hulle teenoor die Arameërs opgestel. 11Die res van die manskappe het hy onder bevel van sy broer Avishai gesit en hulle het hul teenoor die kinders van Ammon opgestel. 12Hy het vir hom gesê: “As die Arameërs vir my te sterk word, dan moet jy my te hulp kom en as die kinders van Ammon vir jou te sterk word, sal ek jou kom help. 13Wees dapper en laat ons onveranderlik sterk wees vir ons volk en vir die stede van ons God. Laat יהוה doen wat goed is in Sy oë!” 14Yo’av en die manskappe wat by hom was het nader gegaan vir die geveg met die Arameërs en hulle het voor hom gevlug. 15Toe die seuns van `Ammon sien dat die Arameërs vlug, het hulle ook voor sy broer Avishai gevlug en die stad ingegaan. Toe het Yo’av teruggegaan na Yerushalayim.

16Toe die Arameërs sien dat hulle voor Yisra’el verslaan is, het hulle boodskappers gestuur en die Arameërs uitgebring wat oorkant die Rivier was en hulle het by Heilam gekom; Shovakh, die bevelvoerder van Hadad`ezer se weermag, het voor hulle uit gegaan. 17Dit is aan Dawid vertel en hy het die hele Yisra’el bymekaargemaak en teen hulle opgetrek. Hulle het die gevegsordes teen die Arameërs opgestel en met hulle geveg. 18Die Arameërs het voor Yisra’el gevlug en Dawid het van die Arameërs sewe duisend strydwadrywers en veertig duisend voetsoldate doodgemaak; Shovakh, die bevelvoerder, is ook gedood. 19Toe die diensknegte van Hadad`ezer sien dat hulle voor Yisra’el verslaan is, het hulle met Dawid vrede gesluit en hom gedien en die Arameërs wou die seuns van `Ammon nie verder help nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Chronicles 18
Top of Page
Top of Page